Joe Biden

Joe Biden
46ste President van die Verenigde State
Ampstermyn 20 Januarie 2021
Voorganger Donald Trump
Opvolger
Geboorteplek Scranton, Pennsilvanië
Sterftedatum
Sterfteplek
Eerste Dame Jill Biden
Politieke party Demokraat
Visepresident Kamala Harris
Handtekening

Joseph Robinette (Joe) Biden Jr. (/ˌrɒbɪˈnɛt ˈbaɪdən/; gebore op 20 November 1942) is 'n Amerikaanse politikus wat op 20 Januarie 2021 as die 46ste president van die Verenigde State ingehuldig is. Hy het tussen 2009 en 2017 as die 47ste adjunkpresident onder Barack Obama gedien. Hy het ook van 1973 tot 2009 die deelstaat Delaware in die Amerikaanse Senaat verteenwoordig. Biden is 'n lid van die Demokratiese Party en was die Demokratiese presidentskandidaat vir die 2020-verkiesing teen die vorige president Donald Trump, wat die onderspit gedelf het. Biden se veldtogte van 1988 en 2008 om tot presidentskandidaat benoem te word, was onsuksesvol.

Biden het in Scranton, Pennsilvanië, en New Castle County, Delaware, grootgeword. Hy het aan die Universiteit van Delaware gestudeer, voordat hy 'n regsgraad aan die Universiteit van Syracuse behaal het.[1] Hy het in 1969 'n prokureur geword en is in 1970 tot die raad van New Castle County verkies. In 1972 is hy as senator vir Delaware verkies. Daarmee het hy die sesde jongste persoon geword wat tot die Amerikaanse senaat verkies is. Biden is ses keer herkies, en was die vierde mees senior senator toe hy bedank het om in 2009 die amp van adjunkpresident oor te neem.

As senator was Biden 'n jarelange lid en uiteindelik voorsitter van die Komitee vir Buitelandse Betrekkinge. Hy het die Golfoorlog in 1991 teengestaan, maar was 'n voorstander van Amerikaanse en NAVO-ingryping in die Bosniese oorlog in 1994 en 1995, die uitbreiding van NAVO in die negentigerjare en die bombardering van Serwië in 1999 tydens die Kosovo-oorlog. Hy het gestem vir die resolusie wat die oorlog in Irak in 2002 gemagtig het, maar die vergroting van die aantal troepe in 2007 teengestaan. Hy was ook die voorsitter van die regterlike komitee van die senaat tydens die nominasies van regters Robert Bork en Clarence Thomas.

In 2008 was Biden die Demokratiese presidensiële genomineerde Barack Obama se keuse as adjunkpresident. Hy was die eerste Rooms-Katolieke adjunkpresident van die Verenigde State.[2] As adjunkpresident het Biden toesig gehou oor die besteding aan infrastruktuur om die Groot Resessie teen te werk. Sy onderhandelinge met die Republikeine het die Obama-administrasie telkens gehelp om wetgewing deurgevoer te kry. Obama en Biden is in 2012 herkies.

In Oktober 2015, ná maande van bespiegeling, het Biden aangekondig dat hy nie die presidentskap in die 2016-verkiesing sou najaag nie. Ná sy tweede termyn as adjunkpresident het Biden hom by die fakulteit van die Universiteit van Pennsilvanië aangesluit, waar hy benoem is tot die Benjamin Franklin-professor in presidensiële praktyk.[3] Hy het op 25 April 2019 aangekondig dat hy aan die 2020-verkiesing sou deelneem as presidentskandidaat vir die Demokratiese Party. Met die opskorting van Bernie Sanders se veldtog op 8 April 2020 het Biden die aangewese Demokratiese genomineerde vir die presidentsverkiesing geword.

Met sy inhuldiging op 20 Januarie 2021 as 46ste Amerikaanse president, was hy reeds 78, en het hy Donald Trump se rekord as oudste Amerikaanse president oortref. Tydens sy verkiesing het hy ook meer stemme op hom verenig as enige vorige presidentskandidaat - die vorige hoogste stemtal is deur Barack Obama gehou. Hy is ook die eerste Amerikaanse president met 'n vroulike vise-president, naamlik Kamala Harris.[4]

  1. (en) "Joe Biden | Biography & Facts". Encyclopedia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Mei 2020.
  2. (en) "The First Catholic Vice President?". NPR. 9 Januarie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2019. Besoek op 20 Januarie 2021.
  3. (en) Berke, Jeremy (7 Februarie 2017). "Here's what Joe Biden will do after 8 years as vice president". Business Insider. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2020. Besoek op 8 Februarie 2017.
  4. Beyond the Headlines: an unprecedented presidential handover, The National News, 2021

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search